0 Comments
GELOFTEDAG Historiese en Geloofsperspektief Geloftedag was oor die jare heen, en word steeds male sonder tal gruwelik misbruik vir politieke, rassistiese of ook ander ideologiese agendas. Dit het by baie, ook by vele Afrikaners en veral gelowige Afrikaners, ʼn onsmaaklike en aanstootlike beeld gelaat. Die misbruik is lynreg teen die intensie van die gelofte. Nee, dit gaan in werklikheid oor die voorsienigheid van God, sy intieme naby wees by sy kinders en sy verhoring van gebede. Die herdenking van die Gelofte gaan om die erkenning en die verheerliking van die enige, almagtige, drie-enige God en sy barmhartige bemoeienis met nietige gelowige mense. Oor sy onstuitbare vermoë om wondere te doen en uitkoms te gee waar dit vir ons mense onmoontlik en onhaalbaar lyk. Dit gaan nie primêr oor die volk nie, dit gaan nie om die veldslag nie, dit gaan om God wat hom in bepaalde historiese konteks openbaar het. Enigeen wat van Geloftedag iets anders wil maak, ʼn volksfees wil maak vir die “Volk van die Gelofte”, moet liefs maar die Woord van die Here in Hosea 8 en 9 ter harte neem waar hy stel dat Efraim offers bring om hulleself te bevredig en dat hulle moet ophou daarmee. In Jesaja 1 verklaar Hy dat Hy ʼn afsku het in Israel se feesdae, dat Hy moeg is daarvoor en dat Hy liefde vra en nie offers nie. Nee, wanneer God en sy verhoring van gebede, sy barmhartige genade nie suiwer en opreg herdenk word nie, dan sal dit gepas wees om enige vorm van openbare herdenking te staak. Laat die opregtes dit dan liewer herdink as deel van eredienste op die eerste Sondag na 16 Desember. Synde ʼn herdenking van die God se gebedsverhoring by die spesifieke slag van Bloedrivier, het ek dit goed gedink om eers die historiese omstandighede van God se ingrepe te deel en dan perspektief op die inhoud van die gelofte self. Historiese perspektief: Vanuit geweldige nood in die Kolonie het die Voortrekkers in geloofsvertroue ʼn uitkoms in die binneland gesoek. Hulle het baie gely onder Xhosa aanvalle en diefstal – een boer meld byvoorbeeld dat in sy pa en sy eie leeftyd alleen hulle 5 keer heel voor moes begin met NIKS. Alhoewel die Britse owerheid belastings gehef het, het hulle geen ondersteuning en beskerming gebied nie, hulle wou selfs geen sélfbeskerming toelaat of ondersteun nie. Die boere is alle inspraak in hul landsbestuur ontsê. Alternatiewe was min en na verslae dat inboorling oorloë uitgestrekte landstreke noord van die Oranjerivier in Natal ontvolk het, het dit hulle gekose opsie geword. In 1835 trek Louis Trichardt en Hans van Rensburg, Hendrik Potgieter vroeg in 1836 en Gert Maritz in September dieselfde jaar. En hoe gaan dit toe? Teen 1836 is Hans van Rensburg se hele geselskap naby die Limpopo uitgewis en twee jaar later (maande voor die slag van Bloedrivier) is Louis Trichard en die meeste van sy trek dood aan malaria in Delagoabaai (Maputo) se omstreke. In Oktober 1836 val die Matabeles naby die Vaalrivier aan en van Januarie tot Oktober 1837 vind verskeie skermutselings plaas totdat Moselikatsi hom noord van die Limpopo vestig. In Natal gaan dit egter heelwat beter – Piet Retief onderhandel ʼn ooreenkoms vir grond met Dingaan van die Zulus, en Retief ondervind geen probleme om gesteelde vee by Sikonyela terug te buit as sy deel van die ooreenkoms met Dingaan nie. Die Voortrekkers begin die Drakensberg aftrek na die lieflike Natal en Retief vertrek na Dingaan wat op 6 Februarie 1837 die ooreenkoms onderteken. En toe val alles egter in die vuur – Dingaan vermoor Retief en sy hele geselskap en loots moordaanvalle op die Voortrekkers met geweldige gevolge by veral Blouwkrans en Weenen. Met Retief dood kom Maritz, Piet Uys en Hendrik Potgieter bymekaar en stuur ʼn kommando uit onder gesamentlike leierskap van Uys en Potgieter. Dit loop uit op ʼn volslae mislukking – Uys en sy seun Dirkie sneuwel in ʼn hinderlaag en die res ontkom saam met Potgieter – hulle word die “vlugkommando”. Potgieter vertrek vir goed Transvaal toe, Maritz sterf weens siekte en die Voortrekkers is bykans leierloos – Retief is vermoor; Uys het gesneuwel; Potgieter is weg en Maritz is dood. Die Voortrekkers kom bymekaar in groter laers maar die Zulu’s bly in die omgewing, siektes vier hoogty en hulle ly broodgebrek. Benard, benoud, verwese, uitgelewer – maar gelowig en vertrouend op God. Dan kon daar hoop – oorspronklik vanuit Graaff-Reinet kom Andries Pretorius, ʼn skitterende organiseerder en begaafde krygsman. Hy vertrek met ʼn kommando van 464 Voortrekkers en 64 waens, ~650 osse en ~750 perde en van Port Natal sluit 3 setlaars en 120 swart mense by hulle aan – saam met agterryers totaal ongeveer 811 mense. Anders as die ander leiers volg Pretorius ʼn offensiewe strategie met defensiewe taktiek. Hy vat waens met veghekke saam om te kan laertrek. Maar die oormag is geweldig – die Zulus was by vermoeë om tussen 30 000 en 40 000 krygers te mobiliseer. In besef van totale afhanklikheid van God begin die kommando op Sondag 9 Desember 1838 tydens godsdiens in gebed ʼn gelofte maak aan God. Dat indien Hy hulle die oorwinning sou bied, hulle Hom sal eer en verheerlik vir Sy uitkoms, dat hulle ʼn kerk sal bou en Sy uitkoms sal bekendmaak in hul nageslagte om Hom te Eer. In daaglikse afhanklikheidsbesef herhaal hulle dit elke dag tot op 15 Desember, die dag voor die veldslag. Nadat hulle gereeld van die Zulus teengekom het, trek hulle laer Saterdag aand 15 Desember in die hoek van die Ncombe rivier en ʼn donga. Toe die mis lig die volgende dag, Sondag 16 Desember 1838, was die Zulus rondom hulle – geskat tussen 12 000 tot 15 000, en die eerste van drie hoofaanvalle begin net na dagbreek. Maar wonderbaarlik is die magtige Zulu oorlogmasjien ongewoon ongeorganiseerd. Teen 11:00 begin die laaste aanval afneem en die kommando loots ʼn agtervolging wat bykans nog drie uur duur. Die slag is verby en aan die “wenkommando” se kant is slegs drie lig beseer met soveel Zulus gesneuweldes (nagenoeg 3000) dat die water rooi was – vandaar die naam Bloedrivier. ʼn Merkwaardige, ongelooflike – nee, ʼn gelooflike gebedsverhoring. Gelofte Perspektief: Kom ons oorweeg vervolgens enkele perspektiewe oor die Gelofte – met ʼn traktaat van Prof Spoelstra wat in 1982 uitgegee is deur die Instituut vir Reformatoriese Studies as vernaamste bron. Die presiese inhoud of bewoording van die gelofte is nie so seker as wat ons dit meestal voorgehou word nie. Die inhoud en bewoording wat algemeen gebruik word, is deur Gerdener eers in 1925 gerekonstrueer hoofsaaklik vanuit verklarings van Sarel Cilliers op sy sterfbed in 1870 bykans 30 jaar ná die slag – dit lei as volg: “Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om aan Hom ʼn gelofte te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring, en dat ons ʼn huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.” Maar die vroeëre dokumentering en gebruik in die eerste sowat 25 jaar na die veldslag verskil heelwat hiervan. Tydens die ekspedisie was ene JG Bantjes die Sekretaris van Andries Pretorius en hy het allerlei sake oor elke dag noukeurig opgeteken – selfs wat gelees en gesing is en toesprake wat gemaak is. Hy het ook persoonlik meegedoen aan die gelofte aflegging en dit aangehoor op ten minste 7 geleenthede. Sy dokumentering van die gelofte is in sy Journaal gepubliseer in Junie 1839. Volgens hom het Pretorius die manne se instemming verkry om in die gebed om hulp en bystand ʼn gelofte te doen: “om indien die Here hulle die oorwinning gee, hulle ʼn kerk sal oprig ter gedagtenis aan sy Grote Naam op die plek wat Hom sal behaag, en dat hulle die hulp en bystand van God moes afsmeek om hulle gelofte stand te doen en die oorwinning sal boekstaaf om dit bekend te maak, ook aan ons laaste nageslag sodat dit ter Eer van die Here gevier mag word.” Bantjes laat die klem val op die bou van ʼn kerk, die verkondiging dat die Here die oorwinning gegee het en dat Hy daarvoor geëer sal word – niks van ʼn spesifieke herdenkingsdag as ʼn Sabbat nie. Andries Pretorius self skryf op 23 Desember 1838, enkele dae na die gelofte aflegging as volg: “Ons hier het besluit om die dag van ons oorwinning, hierdie Sondag 16 Desember 1838, onder ons ganse geslag bekend te maak, en dat ons aan die Here wil toewy die viering met Danksegging soos ons voor die stryd teen die vyand in openbare gebed beloof het. En ook dat indien ons die oorwinning behaal ons ʼn kerk sal oprig tot eer en nagedagtenis aan sy Naam op die plek wat Hy sal aanwys. Hierdie gelofte hoop ons om nou gestand te doen met die hulp van die Here, noudat Hy ons geseën en ons gebede verhoor het.” Ook Pretorius se weergawe verskil merklik t.o.v. ʼn herdenkingsdag as ʼn Sabbat. Die nakom van die gelofte sien hy as iets om nou te kan doen en nie iets wat vir altyd in die toekoms bly nie. In die jare na die veldslag is die dag 16 Desember nie as ʼn Sabbat of Sondag deurgebring nie, enkelinge soos Sarel Cilliers het wel, maar dit was nie die algemene gebruik nie en daar is ook geen vermanings of oproepe daartoe bekend soos wat verwag sou kon word van mense wat hul geloof en hul God baie ernstig opgeneem het nie. Rondom 1860 het dit heel onstuimig gegaan op kerklike en godsdienstige toneel met allerlei liberale ‘revival’ metodes wat sommige predikante wou invoer. Deels in reaksie hierop word opgemerk dat die Afrikaners geen besondere feesdae onderhou nie en onder hierdie invloed besluit die Natalse NG Kerk in 1864 (26 jaar na die aflegging van die gelofte en die veldslag) dat 16 Desember as ʼn “dankdag” in die Natalse gemeentes onderhou sal word en hulle suggereer dat dit as nasionale feesdag erken moet word. Die volgende jaar volg die Volksraad van Transvaal met ʼn besluit om 16 Desember as ʼn algemene dankdag aan die Here te wy. Die Vrystaat volg dit eers na in 1894. Eers in 1870, kort voor sy dood, laat Sarel Cilliers sy herinnering opteken. Om verskeie redes oordeel sommiges dat sy herinnering nie juis is nie – hy verskil heelwat van weergawes wat ruim 30 jaar tevore opgeteken is. Alhoewel hy in lyn is met kerklike gebruik van die tyd was dit nie gedoen toe die gelofte nog vars in almal se geheue was nie. Daar is wel een ander weergawe wat ook die idee van ʼn jaarlikse herdenking insluit. In 1862 word nog ʼn weergawe van die gelofte verhaal deur ene Dewald Pretorius wat ook saam in die kommando was. Tydens hul stryd om die tradisionele gereformeerde erfenis te beskerm teen die liberale aanslag uit die Kolonie, ondersoek verskeie predikante die slag van Bloedrivier en verneem hulle van Pretorius dat “die Hoofkommandant (Andries Pretorius) Sarel Cilliers versoek het om voor die godsdiens ʼn belofte aan die Here ons God te doen, dat as die Here die oorwinning aan hulle sou gee, hulle die dag as ʼn gebedsdag al die jare sal vier en dat in die land wat nou ʼn woesteny en ʼn moordenaarskuil is, kerke en skole gebou sal word tot Gods eer.” So wat sê ons nou hiervan? Spesifiek – Het die gelofte ʼn jaarlikse Sondag gedenkdag ingesluit of nie? Meer algemeen – Kan ʼn handjievol boere in Natal die ganse nageslag in gelofte voor God bind? Spoelstra antwoord dit uitstekend: “Ek glo dat die tegniese vrae onbelangrik is. Wie in hierdie trant van ʼn plig om ʼn bepaalde dag soos ʼn Sabbat te hou redeneer, maak op die ou end die onderhouding van die gelofte ʼn wettiese godsdiensplig.” “Die sin van die Gelofte om aan God die eer vir die oorwinning te gee word vermoor wanneer Afrikaners eksklusief wetties verplig word om ʼn dag soos ʼn Sondag te hou asof dit in die Gelofte oor die herdenkingsdag gegaan het in plaas van die eer van God.” Waarom sal ons dit dan wel as ʼn herdenkingsdag vier?
As jy gebonde voel deur die gelofte is dit goed, maar pasop om dit bloot as wettiese plig te wil nakom. God haat dit. Uiteindelik kom ons saam in erediens aan die Enige God omdat ons wil, omdat ons oordeel om daartoe geroep en gedring te wees. Omdat ons graag nóg ʼn geleentheid gebruik om God se hand spesifiek in ons geskiedenis en die geskiedenis van ons land te gedenk. Om Hom te loof vir die onverdiende genade wat Hy steeds vandag nog gee, vir die uitkoms wat Hy gee – hetsy in verhoring van gebede deur omstandighede te verander of in die vrede wat Hy bring deur ons te verander binne onveranderde omstandighede. In my persoonlike hoedanigheid: Andries Burger 2009
|
PredikingOns glo aan Christus gesentreerde prediking wat troos, oproep en rig om Hom te volg. Argief
October 2024
Kategorië
All
|